Heimwee
Heimwee · Woerden

Wie is ek?

Ek is ’n opgeleide sjef, maar min het ek destyds as jong sjefstudent geweet waarheen dié pad my sou lei.

Vir 21 jaar was ek die kosredakteur van een van Suid-Afrika se grootste tydskrifte. Ek het ook vir talle ander publikasies geskryf, verskeie resepteboeke die lig laat sien en myself geleer om my eie kos te fotografeer. Tydskrifte was nog altyd my eerste liefde.

Vickie skil pere in haar groen kombuis
En so is Heimwee gebore.Vickie

In 2020 het ons na Nederland geëmigreer. Daardie eerste jaar was swaar, en stadig maar seker moes ek weer my voete vind. Ek het weer my ma se resepte begin kook, die onthouresepte waarmee ek grootgeword het, en daarin het ek iets van die bekende teruggevind. Kort voor lank het ek dié resepte begin deel in kookklasse om die kombuistafel van ons klein rijtjeshuisje in Woerden. Mettertyd het die gedagte aan my eie tydskrif ook begin vorm aanneem, en so is Heimwee gebore.

Vandag is my span my gesin. Ons doen alles self, van die bladuitleg tot die fotografie. Wat ’n voorreg om saam kreatief te kan wees en iets moois met betekenis te skep.

En wie sou kon dink dat daardie kookklasse soveel mense sou bymekaarbring? Of dat daar tussen die kosmaak en die gesels soveel nuwe vriendskappe sou ontstaan? Iets wat uit my eie verlange na huis gebore is, het vir my meer vreugde gebring as wat ek ooit kon droom.

Vickie